Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 16 MAART 2014

Goeie môre, U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutels van drie radioamateurs in die afgelope tyd stil geraak het. Hulle is die van:

Jenny Brotton, ZS6JEN, eggenote van Dave, ZS6DBM, op 11 Maart nadat sy op 10 Maart gehospitaliseer is. Jenny was ongeveer 15 jaar gelede aktief in die Sandton radioklub.

Tony, ZS1AET, op 12 Maart.

Gys van Rooyen, ZS6BJX, van Orkney, op 14 Februarie, na 'n stryd, sedert 2000, teen kanker. Gys was 'n aktiewe Hamnetlid, 'n stigterslid van die SA Lugmag Amateurradiovereniging, was aktief by ZS6MUS en ZS75SAAF. Gys laat sy eggenote Rita, 5 kinders (waarvan Johann, ZS6L, die enigste amateur is), 9 kleinkinders en 6 agter kleinkinders agter.

Ons innige simpatie met die families en vriende van die afgestorwenes.

(POUSE)

In die nuus vandag:

DATUM VAN JOHANNESBURG SE RTA VERANDER

OPPERVLAKMONTERINGTEGNOLOGIE SARL@HOME BY DIE NARS OP 22 MAART

INSKRYWINGS VIR DIE Mei-RAE NOU OOP

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

DATUM VAN JOHANNESBURG SE RTA VERANDER

Die RTA wat in die Nasionale Radioamateursentrum gehou sal word, is met een week vervroeg na 23 Augustus na 'n versoek van die Wes-Rand amateurradioklub wie se snuffelmark op 30 Augustus plaasvind. Besprekingsbesonder sal binnekort beskikbaar wees.

SARL@HOME OPPERVLAKMONTERINGTEGNOLOGIE – INDIEN U NOG NIE BESPREEK HET NIE, DOEN DIT NOU

Volgende op die suksesvolle SARL@Home in Januarie gehou, word dit weer op 22 Maart 2014, vanaf 09:00 tot 13:00, in die Nasionale Amateurradiosentrum deur Frik Wolff, ZS6FZ, aan. Gebied. Koste beloop R150 wat 'n gedrukte stroombaanbord en onderdele insluit vir die bou van 'n baie lae krag FM-sender. Die fooi sluit ook 'n disket met aanwysings, kringdiagramme ens. in. Nie-lede betaal R300.

Bespreking is belangrik aangesien net 20 persone geakkommodeer kan word. Bring u eie soldeerbout met 'n fyn punt, asook 'n klein tangetjie, klein gereedskap en 'n vergrootglas saam. Die SARL het 'n spesiale aanbieding vir 'n vergrootglas indien u een wil aankoop. Besonderhede is op die besprekingsvorm op die tuisblad van die SARL nl. www.sarl.org.za, waar u ook die status van u bespreking kan nagaan. Besprekings sluit op Maandag 17 Maart.

AANVAAR DIE RaDARUITDAGING AAN

Is u gereed vir 'n opwindende amateurradio-uitdaging? Rig 'n draagbare stasie op, maak 5 kontakte, stap een kilometer, rig weer die stasie op en maak 5 kontakte. Hou aan vir die vier uur tydperk. U kan dieselfde doen deur van 'n kar, motorfiets, fiets of ander vervoermiddel gebruik te maak maar vir 3 km te ry. U het die wêreld van snel oprigting van amateurradio betree. U sal insig kry oor die keuses van radio’s, antennas en bedryfsfrekwensies. Die vier uur tydsbeperking plaas u onder 'n bietjie spanning om al die faktore in werklike tyd die hoof te bied. Amateurs beoefen RaDAR ter eniger tyd wanneer hulle kan, maar daar is die 4 uur RaDARkompetisie die eerste Saterdag van April en November, waarvan die eerste op 5 April van 14:00 tot 18:00 UTC plaasvind.

Bo en behalwe die twee kategorieë hierbo genoem is daar ook draagbare en tuiskategorieë. Vir elke kategorie geld 'n vermenigvuldiger. Krag is u keuse, QRP en hoër met vermenigvuldigers. Alle amateurbande, met insluiting van kruisbandkontakte via amateurradiosatelliete is toegelaat, behalwe die WARC-bande. Modusse – GG, ESB, AM, FM of enige digitale modus. QSO’s via herhalers op die aarde is ongeldig. Roepsein, naam, RS.(T)-verslag, QTH en ruitverwysing van 6 karakters, maar 10 verkieslik, word uitgeruil. Daar is ook 'n bonus vir jou eerste interkontinentale QSO. Volle besonderhede kan verkry word uit die SARL se kompetisiehandboek asook by www.sarl.org.za.

INSKRYWINGS VIR DIE Mei-RAE NOU OOP

Die SARL het 'n nuwe aanlyn inskrywingstelsel vir die amateurradio-eksamen ingestel. Kandidate vir die eksamen in Mei moet die SARL se webtuiste besoek vir besonderhede oor hoe om te registreer.

FREKWENSIEVERANDERING VIR AMATEUR RADIO TODAY

Na 2 April tree frekwensieveranderings vir Amateur Radio Today inwerking. Op Maandae om 18:30 SAT vervang 3 230 vir 4 895 kHz en op Sondae om 10:00 SAT vervang 17 760 vir 17 660 kHz. Ontvangsrapporte sal waardeer word, stuur dit aan artoday@sarl.org.za.

REGISTREER NOU VIR SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM

Registrasies vir SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM kan nou gedoen word. Die simposium word op Saterdag 24 Mei in die Innovation Hub in Pretoria gehou. Afslag geld vir vroeë besprekings en vir lede van die SARL, of SA AMSAT. Verkry besonderhede by www.amsatsa.org.za.

SARL SE ALGEMENE JAARVERGADERING

SARL-lede let asseblief daarop dat die kennisgewing van die algemene jaarvergadering, die agenda en ondersteunende dokumentasie alles beskikbaar is by www.sarl.org.za. Klik op die "members only" knoppie in die boonste regterkantste hoek en volg die verskillende skakels om die dokumente af te laai.

Lede wat nie kan bywoon nie word versoek om hul volmagte te gee aan 'n ander lid wat wel die vergadering gaan bywoon. Die volmagvorm kan afsonderlik afgelaai word. Voltooiing van 'n volmag is uiters belangrik om te verseker dat ons 'n kworum by die algemene jaarvergadering het. Wend 'n spesiale poging aan om jou volmag te gee aan iemand wat by die algemene jaarvergadering teenwoordig sal wees.

As jy die AJV gaan bywoon, bespreek jou bywoning en verblyf nou. Al is die bywoning van die vergadering gratis, vra ons dat jy bespreek. Dit help met die reëlings wat ons moet maak, veral die spysenieringsreëlings.

Ons sien daarna uit om julle by die algemene jaarvergadering in Pretoria te hê op Saterdag 12 April.

ELEKTRONIESE STEMSTELSEL

By 2013 se algemene jaarvergadering is die Raad belas met die ontwikkeling van 'n elektroniese stemstelsel vir verkiesing van SARL-raadslede.

So 'n stelsel is ontwikkel deur die SARL-webmeester, Peter Hers, ZS6PHD. Die stelsel is nou beskikbaar vir demonstrasie. Onthou dat dit nie 'n werklike stemming is nie, net 'n toets van die stelsel. Die ontwikkelaar het spesifiek name van filmsterre gebruik sodat niemand moontlik die indruk kan kry dat dit 'n lewendige stelsel is nie.

Toets asseblief die stemstelsel en gee terugvoering as jy enige foute optel. Die stelsel verhoed dat 'n lid meer as een keer stem, so probeer dit twee keer om te kyk hoe dit reageer.

Die adres is www.sarl.org.za/Web3/CouncilElection/ . Stuur jou terugvoering aan die webmeester by webmaster@sarl.org.za.

'n Mosie vir die toekomstige gebruik van hierdie stelsel is vervat in die kennisgewing van die SARL-AJV, beskikbaar op die lede-alleen afdeling van die webwerf. Dit bevat meer inligting oor hierdie saak.

QSL-KAARTE

Namate posgeld aanhou styg, doen die QSL-buro alles in sy vermoë om binne sy begroting te bly. Hierdie berig is 'n versoek van die buro aan alle lede om asseblief die korrekte grootte en tipe kaart te gebruik. Dit hou kostes vir ons almal onder beheer. Ons merk op die sommige lande slegs kaarte van standaardgrootte versend. Ons wil nog nie sovêr gaan nie, maar kan daartoe gedwing word deur stygende posgeld.

Die regte grootte is 140 mm by 90 mm op 220 tot 230 gram papier; die maksimum massa is drie gram per kaart. Indien u nog oorgrootte kaarte het, kan u dit gebruik, maar maak die volgende klomp die standaardgrootte. Die groter-as-standaardkaarte word ongelukkig dikwels beskadig in die verpakkingsproses.

AANSOEKE OM LIDMAATSKAP

Aansoeke om lidmaatskap van die SARL is van die volgende radioamateurs ontvang:
JP Human, ZS6BZ;
Cornelius Taljaard, ZSL1092;
Gawie Botha, ZSL1093;
Philip Dysel, ZSL1094;
Fred Gibson, ZR4CFG
Enige besware teen die aanvaarding van lidmaatskapaansoeke moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.

Die SARL het tans 1 704 opbetaalde lede.

ONS VROEë SUID-AFRIKAANSE BHF-PIONIERS

In 1934 klim 'n jong Bert Howes, ZS1AL (ZS6HS) vir Tafelberg uit en kontak verskeie stasies in die skiereiland met sy 5 meter (56-60 MHz)superterugvoerende send-ontvanger. Hierdie stasies sluit in Denis Richardson, ZS1B, en Guy Swart, ZS1AX. Rondom hierdie tyd eksperimenteer Henry Rieder, ZS1P, met die Baird meganies aftastende TV stelsel. Bert bekom 'n Hallicrafter Ultra Skyrider kommunikasieontvanger in 1937 en hoor die TV-klanksein op 41,5 MHz van Alexandra Palace, Londen. Voor die aanvang van die oorlogtoets Guy Swart, ZS1AX, 5 meter uit de Waal Drive in Kaapstad en hy kontak Johnny du Plessis, ZS2EH, in Johannesburg kruisband op 20 meter via 'n onverwagte kort oorspring (Sporadiese E) opening.

Na die oorlog is die nuwe sesmeterband (50 MHz) toegeken en Henry, ZS1P, maak 'n kruisbandkontak op 10 meter met Hilton O'Hefferman, G5BY. ZS6HS, nou Majoor Bert Howes, maak die eerste tweerigting sesmeterkontak vanuit Johannesburg met Majoor Ken Ellis, MD5KW, in Port Said, gevolg 'n paar dae later deur Charles Rieder, ZS1T en sy broer ZS1P wat David Saayer, PA0UN, in Eindhoven kontak vir 'n nuwe wêreldrekorddistansie van 9 830 km. Hulle word die volgende dag gevolg deur Guy Swart, ZS1AX en later deur Frank Stayner, ZS1DJ, wat ook PA0UN kontak.

Die eerste tweerigting sporadiese E-kontak in Suid-Afrika is op 15 November 1947 bewerkstellig toe Majoor Guy Swart, ZS1AX, op 6 meter kontak gemaak het met Majoor Ted Cooke, ZS6BT, en Majoor Bert, ZS6HS. In 1946 het Henry, ZS1P, die hooflyne gehaal toe hy die TV-beeld en klank van die Oxford/Cambridge bootresies in Londen ontvang het. Frank Burrell, ZS2CY, in Port Elizabeth en Braam Fouche, ZS3G, in Tsumeb, Namibië, stel 'n ES-rekord van 1 812 km in 1957 op wat vir 38 jaar staande gebly het. 'n Jaar later kontak Denis Richardson, ZS1B, vir JA1AXE en stel 'n nuwe wêreldrekord van 14 730 km op wat eers 21 jaar later deur Jack de Villiers, ZS6N, gebreek word. Kaapstad was werklik due bakermat van BHF in Suid-Afrika.

KOMPETISIENUUS

In die digitale kompetisie gehou op 23 Februarie 2014, was daar 19 stasies op die lug waarvan 4 DX-stasies was. Die kompetisieuitslae is as volg:
1ste - Roger Jones - ZS6RJ
2de - Karel Bezuidenhout - ZR6K
3de - Marius Snyman - ZR6MS
4de - Suid Kaap Amateur Radio Club - ZS1SKR
5de - Theunis Potgieter - ZS2EC

Veels geluk en dankie aan al die wat logstate ingestuur het.

'n ANDER PRESTASIE

Op 2014:03:11 het Braam Devenier, ZS6AYE, 'n ESB-kontak met E51CG in BG08CT, in Suid Cook Eiland om 19:31 Suid Cook Eilandtyd. Seine was 5/5. Braam se antenna was na die noorde met die langpad oor die Noordpool gerig.

Die operateur het bevestig dat hy op Suid Cook Eiland was, 25 311 km vanaf Braam.

Barnie, ZS6TQ, het bevestiging op 'n groepweb gesien, dus is Braam se kontak wettig.

VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak gematig gaan wees. Daar is nog verskeie klein en middelmatige sonvlekke terwyl Sonvlek AR2002 'n komplekse magneetveld het en die bron van X-klas fakkels kan wees.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 100.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Daar behoort ook 'n paar 6 m openinge vroeg aand te wees.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

17 Maart – bespreking sluit vir die SARL@Home op 22 Maart by die NARS.
31 Maart – Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die Skole Satellietprojek aan SA AMSAT. Besoek www.amsatsa.org.za.
10 April – Sluitingsdatum vir registrasie vir die RAE IN Mei.
11-13 April – Nasionale Konvensie van die SARL.

Die 2014 SARL Dagboek van Gebeure sal in die komende week op www.sarl.org.za. beskikbaar wees vir aflaai. Kry 'n afskrif en hou dit handig in jou radiokamer.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX

======================= Boodskap Eindig =======================

Om u e-pos-inskrywing in hierdie poslys te verwyder of te redigeer gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003